Ratte-saak uitgestel ná 'nuwe bewerings'
Saterdag, 02 Oktober 2010 09:50 Praag
Die dringende aansoek om die vrylating van oud-kmdt. Willem Ratte wat vanmôre om 10.00 in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor sou word, is uitgestel vanweë "nuwe en ernstige bewerings" wat deur die staat gemaak word. Ratte se prokureur, mnr. Daan Mostert, is na die gevangenis in Witbank op pad om verdere getuienis van sy kliënt in te win.
Wilde bewerings van "terrorisme" word deur die staat teen Ratte gemaak, met die Media 24-koerant Beeld wat lustig hieraan deelneem op 'n wyse wat herinner aan die onsmaaklike bewerings van homoseksualisme wat ná die moord op Eugene Terre'Blanche deur die ANC se inligtingsdiens en die media versprei is. 'n Ingeligite mediakenner het aan Praag gesê: "Bewerings soos dié van terrorisme is baie ernstig, veral binne die internasionale konteks met Amerika se 'oorlog teen terreur'. Die foto van die beweerde wapens en besonderhede wat tot dusver vrygestel is, wil dit laat voorkom
asof 'n akkedis hier tot 'n krokodil aangepraat word. Dit reflekteer op die professionalisme van sowel die polisie as die verslaggewers wat kennelik met 'n soort propagandaveldtog teen Ratte besig is wat hoegenaamd nie deur die beskikbare getuienis geregverdig word nie."
Nog 'n kommentator wat anoniem wou bly, het gesê dat "die insident sterk aan die soort plaasbesettings en metodes wat deur Mugabe in Zimbabwe gebruik word, herinner.
Behalwe die geheimsinnnige R4-geweer wat glo aan 'n boom opgehang was, was die wapens in die beskuldigdes se besit wettig. Word jagmesse en panga's deesdae as 'terreurwapens' beskou? Enigeen kan sulke wapens sonder 'n lisensie besit; nietemin word die wapens in Beeld se foto uitgestal asof dit onwettig sou wees."
In 'n verdere berig oor die Ratte-insident deur Beeld, word daar gefokus op mnr. Günther Kotze wat as die "Boere-viking" beskryf word. Maar in dié berig word die bewerings oor "terrorisme" deur sowel Beeld as die SA Polisiediens weerspreek in die volgende sin:
"Kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gister gesê die groep word nie, soos die polisie aanvanklik gesê het, weens misdaad wat met terrorisme verband hou, ondersoek nie."
Dit wil dus voorkom asof sowel Media 24 as die SAPD twyfel oor die aard van Ratte se beweerde oortredings, of dit "verband hou met terrorisme" of nie...
Op Facebook skryf Marlene Rademeyer dat een van die gearresteerdes glad nie in politiek belangstel nie: "Wens ek kan hulle prokureur se nommer in die hande kry, onder die onskuldiges wat ge-aresteer is, is `n jong man met die naam van Christopher wat `n ruk by ons gewoon het. Die ou is in sweiswerk opgelei in Balmoral; hy het hier in Pretoria werk gehad juis as `n sweiser. 'n Maand terug het sy kontrak verval en ons het vir hom gesê hy moet eers teruggaan Balmoral toe en ons sal weer werk vir hom soek. EK kan 100% getuig dat die jong man GLAD nie eers in politiek belangstel nie!!"
Bookmarks