Die departement van landbou, bosbou en visserye het uiteindelik ’n nuwe direkteur-generaal (DG).

Die kabinet het die aanstelling van mnr. Langa Zita, spesiale raadgewer van me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, in dié pos goedgekeur. Verskeie mense het al as direkteurs-generaal waargeneem sedert Pettersson in Mei verlede jaar minister geword en ’n geskikte kandidaat begin soek het om die vergrote departement te lei. Zita het ’n groot rol in die onlangse plaaswerkersberaad in Somerset-Wes gespeel. Hy is ’n bekende in die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en was in die 1990’s hoofsekretaris van Cosatu in die Witwatersrand-gebied. Zita is ook ’n oudparlementslid.

Dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, het die aanstelling van ’n nuwe DG verwelkom. “Ons het tot dusver goed met mnr. Zita saamgewerk en wens hom sterkte toe, want ons weet wat die omvang van sy uitdagings is.” De Jager is nie bekommerd oor Zita se ideologiese agtergrond nie. “Nee wat, die administratiewe uitdagings wat nou op hom wag, is so sterk dat daar nie plek vir ideologiese strewes is nie."

“Die minister het ’n afleweringsooreenkoms met pres. Jacob Zuma geteken dat sy sal presteer en mnr. Zita is die vingers waarmee sy moet aflewer. Ons is baie verlig dat ’n aanstelling uiteindelik gedoen is, want die departement het mank gegaan aan doeltreffende leierskap omdat daar nie ’n heeltydse DG was nie. Groot besluite en enorme uitdagings wag op die nuwe DG. Die departement se kommunikasie-afdeling moet dringend reggeruk word. Die minister het verlede week self haar frustrasie oor dié afdeling uitgespreek.”

De Jager het gesê die departement se kommunikasie met die provinsiale departemente moet ook dringend aandag kry. “Die doeltreffendheid van die departement se landboutegniese adviesdienste moet ook aandag kry. In die Oos-Kaap is daar byvoorbeeld 80 adviseurs, maar net een voertuig vir hulle. Die departement se navorsingsafdeling kort ook dringend aandag," het De Jager gesê.

-Beeld
Dis die begin van die einde vir SA landbou... Ek is BAIE bekommerd oor die pos bekleding van SAKP en Cosatu lede.

Dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, het die aanstelling van ’n nuwe DG verwelkom. “Ons het tot dusver goed met mnr. Zita saamgewerk en wens hom sterkte toe, want ons weet wat die omvang van sy uitdagings is." De Jager is nie bekommerd oor Zita se ideologiese agtergrond nie. “Nee wat, die administratiewe uitdagings wat nou op hom wag, is so sterk dat daar nie plek vir ideologiese strewes is nie."
Hoe naief kan 'n mens wees? Gee hom 'n pinkie en hy gryp die hele arm- of land in die geval!