Bloemfontein
’n Jong Nataller wat homself as ’n Boere-Viking beskou, is deel van ’n groep van drie van die eerste Suidlanders wat getrek het.
Die Suidlanders is besig om op groot skaal voor te berei om te trek na geheime kampe vir wanneer die “profetiese aanslag” op wit mense glo gaan plaasvind.
Een groep glo die Boereprofeet Siener van Rensburg se “nag van die lang messe” is op pad en ’n ander glo God roep sy verbondsvolk na die woestyn.
Mnr. Gunther Jurgens Kotze (32), wat na homself as “Babilon se vyand nommer een” verwys, het gesê hy en twee vriende het hul werk opgegee, al hul goed verkoop en “wag vir die inevitable k—k wat kom”. Hy is ook een van die leiersfigure van die Afrikaner-jeugkommando (AJK), ’n tipe paramilitaristiese beweging met die slagspreuk “Vir God. Vir Vaderland. Vir Volk. Soos een man staan ons saam.”
Die AJK sê op sy Facebook-blad sy doel is om misdaad in stede en op plase te beveg. Hy het ook die volgende twee doelstellings: “1. Die AJK onderhandel nie met die vyand nie. 2. God is ons wapen.”
Kotze het deur Facebook gesê hy en die vriende het in twee bakkies en sleepwaens die pad gevat en kampeer nou. “Ons sien nie meer die punt om by die huis te sit en wag vir die inevitablek—k wat kom, ons swem nie in daai rivier in Egypt nie, jy weet? Denial? En nee, ons trek nie uit nie, ons gaan kamp by mense wat gedreig is.
“So, ons gaan daar by hulle chill, want f—k die gov en babylon and money, ons gaan train en Bybel lees todat dit oorlog is.
“(Die) Suidlanders is reg mah bru, ons is maar net early adopters wat wil en gaan hulp (sic), so ja, kaaaaaaaaamping till uhuru, trainin’, pushups, boogskiet...”
Kotze beskryf homself as ’n persoonlike fiksheid- en selfverdedigingsinstrukteur.
- Die Burger
Bookmarks