Naspers, ons IG Farben?
Nasionale pers (Naspers), wat ongeveer 'n eeu gelede 'n beskeie begin beleef het met die stigting van die Kaapse koerant, Die Burger, is vandag die grootste mediagroep in die land en moontlik onder die toptien ter wêreld. Hulle beskik oor belange dwarsoor die aardbol, in China, Pole en Brasilië en maak iets soos ses miljard rand wins ná belasting per jaar.
Naspers het gegroei van 'n Afrikaneronderneming na 'n globale maatskappy. Soos die ryk man wat sy kinderdae aan die verkeerde kant van die treinspoor probeer wegsteek, het die Afrikaneroorsprong van die maatskappy vir hom 'n verleentheid geword. Die tradisionele koerante en tydskrifte wat Naspers aanhou publiseer en wat grotendeels deur Afrikaners gelees word, word nie meer as 'n belangrike deel van die maatskappy se portefeulje beskou nie.
As multinasionale maatskappy koester Naspers 'n kwalik bedekte minagting vir die Afrikanerverbruiker en -leser. Soos die Sunday Times in die sestiger- en sewentigerjare, wat elke Sondag Afrikaners beledig het in die wete dat hulle wel die koerant sal koop om ontstoke te raak, publiseer Nasperskoerante reeds jare lank erge aanvalle op Afrikanerhelde van weleer en word die publiek se geregverdigde woede oor misdaad, korrupsie en verval gereeld as manifestasies van "rassisme" afgemaak.
Die voorsitter van Naspers, mnr. Ton Vosloo, het op 'n keer in Rapport verklaar: "Die begrip 'Afrikaner' gee aanstoot."
Linkse en selfs ekstreemlinkse rubriekskrywers soos Max du Preez, Christi van der Westhuizen, Leopold Scholtz, Deon Maas, George Claassen, Jakes Gerwel, Hein Willemse, Jonathan Jansen, Henry Jeffreys, Ferdi Greyling en ander is konstant besig om hul eie Afrikanerlesers af te kraak, te beskuldig, te verkleineer en te verguis.
Terwyl die land verval het in iets tussen 'n Zimbabwe en 'n Rwanda, met daaglikse gruweldade - net eergister is 'n een jaar oue babadogtertjie in haar ouerhuis aangeval en vir dood agtergelaat - hou die slimjankommentators van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport vol om Suid-Afrika as 'n demokratiese utopie te beskryf. Die oorsprong van alle kwaad in Suid-Afrika is nie swart geweld, gierigheid, korrupsie en wetteloosheid nie, maar wit rassisme of dan spesifiek Afrikanerrassisme.
Vandeesweek het Leendert van Oostrum in die leserskommentaarruimte op Nuus24 geskryf:
"Ons sit... in die midde van 'n intense terreuroorlog waarin die hordes inderdaad (benewens kos) bloed soek. Maar Naspes hou vol om sy lesers te trakteer op vermaaklike, werklikheidsontekennende klopdansies deur 'n Polyanna soos hierdie rubriekskrywer (Johan Swarts)... (D)ie soort dwase 'denialism' wat mens hierbo sien is m.i. disfunksioneel."
Die rubriek van Johan Swarts waarna Van Oostrum hier verwys verteenwoordig 'n reaksie op my stuk oor Eugène Terre'Blache: 'n Moord te veel. Volgens Swarts wat iewers vanuit sy knusse wegkruipplekkie in die Kaap pontifikeer, verteenwoordig die gevoel van bedreigdheid en selfs vrees by Afrikaners oor hul toekoms in dié geteisterde land Hersenskimme in Dan Roodt se kop. Hy skryf:
"As sodanig het (Roodt) ‘n ou nasionalistiese narratief geherapproprieer sonder om werklik te erken dat dit ‘n uitgediende verhaal is. Toegegee: om Afrikaners te probeer saamsnoer met ‘n narratief is in sommige opsigte edel. Om dit egter ten koste van ander groeperinge te wil doen, is laakbaar."
Al wat Swarts hier in kwasi-geleerde terme doen, is om Naspers se leuse te herhaal: die Afrikanervolk is dood en sal nooit weer opstaan nie. Enige beroep op ons roemryke geskiedenis van oorlewing in die aangesig van verskeie pogings, hetsy deur Dingaan se Zoeloes, hetsy deur die Britte, om ons finaal uit te wis, is futiel en selfs - soos hy dit stel - "laakbaar". Al word ons vermoor, ons vroue en dogters verkrag, selfs ons babas aangeval deur lede van ander groepe, is ons veronderstel om die ander wang te draai en dit maar gelate te aanvaar.
Is so 'n houding van apatie nie ewe patologies as die verskrikkinge wat ons elke dag in dié land ervaar nie? Insgelyks vandeesweek skryf Leopold Scholtz in Die Burger: Groepsdenke is verkeerd. Volgens hom is dit veral Afrikaners wat hulle daaraan skuldig maak. "Groepsdenke" word gedefinieer as: "jy skryf sekere – meestal negatiewe – eienskappe toe aan ander groepe buite jou eie, en skeer dan al die lede van daardie groep(e) oor een kam".
Naspers se rubriekskrywers is nie eintlik goed onderlê in die wysbegeerte of logika nie. As eerstejaartjie het ek op universiteit geleer dat jy nie iemand anders se argument kan afskiet as joune dieselfde struktuur vertoon nie. Scholtz kla dat Afrikaners "ander groepe oor een kam skeer", maar deur dit te sê, skeer hy ons mos insgelyks oor een kam!
Freud het 'n boek geskryf met 'n titel wat vir die hedendaagse Suid-Afrika uiters gepas sou wees: Zur Psychopathologie des Alltagslebens, oftewel, "Oor die psigopatologie van die daaglikse lewe". Elke dag bevat die nuus in ons land voorbeelde van uiterste afwykings soos sadisme, leuenagtigheid, kleptomanie, xenofobie, ens. Maar ook: masochisme, die neiging om pyn en vernedering te geniet.
Behalwe om die Afrikaner se sin vir identiteit en samehorigheid te vernietig, is een van Naspers se oogmerke om van ons almal masochiste te maak. Hoe meer kranksinnig en patologies ons werklikheid raak, hoe meer is ons veronderstel om dit te geniet en soos idiote na die sokker uit te sien met 'n onderbroekvlaggie wat op jou motor se dak wapper.
Vandaar dus die pleidooi wat ene Jan ver Maak (waarskynlik die skuilnaam van 'n Naspersredaksielid) in verlede week se By, die nasionale bylaag by hul dagblaaie, lewer: Raak lief vir Malema.
Jan ver Maak beweer:
"Net soos Terre’Blanche lief was om uit die Bybel aan te haal, asook die dominee op sy begrafnis én daarna Stofsuier Hofmeyr, kan ek dit ook doen: 'Jy moet jou vyand liefhê soos jouself.'
Dít is natuurlik effe te veel gevra. Malema liefhê?
My vraag is: Waarom nie? Hy is bloot ’n produk van omstandighede, iemand wat ly as gevolg van die wond in sy psige wat deur wit bevoorregting veroorsaak is.
Omhels hom, nooi hom om by jou te kom kuier, stort aalmoese uit na hom. Wat kan jy verloor?"
Met ander woorde, hoe meer bepaalde swart leiers "Dubula ibhunu" of "Skiet die Afrikaners" sing, hoe meer moet ons hulle lief kry. Die godsdiensrubriekskrywer van Beeld, Neels Jackson, sing by wyse van spreke presies dieselfde deuntjie as hy vandeesweek skryf dat Malema se haatspraak teen Afrikaners net sal verander as ons "'n positiewe gesindheid teenoor alle Suid-Afrikaners" handhaaf. Met ander woorde, die Jood in die spreekwoordelike konsentrasiekamp by Auschwitz kon sy lot vrygespring het deur net 'n meer "positiewe gesindheid" teenoor die Duitsers te hê. Of volgende keer as jy in jou huis of op jou plaas aangeval word, draai net die ander wang, bedank jou aanvallers dat hulle die moeite gedoen het om vir jou te kom "kuier" en dan sal alles regkom.
As dit nie so tragies was nie, sou 'n mens jou elke dag kon doodlag vir die snert wat jy in Nasperskoerante kan lees.
Aanvalle op babas, die moord op Eugène Terre'Blanche en 3 300 ander boere, die teregstelling van dogtertjies soos die vyfjarige Danielle Esterhuysen wat deur twee Zimbabwiërs op haar ma se skoot doodgeskiet is, dit alles is normale manifestasies van liberale demokrasie soos ons dit in Suid-Afrika beleef en daarvoor moet ons die ander wang draai en 'n "meer positiewe gesindheid" kweek. Aldus Naspers.
Geweld is aanvaarbaar solank Afrikaners maar die gedweë, masochistiese slagoffers daarvan bly. Maar as daar nou een ding is wat Naspers nie kan verdra nie, is dit die taalstryd. Vandat ons tien of meer jaar gelede begin betoog en agtiteer het oor die ongelyke behandeling wat Afrikaans van die staat ontvang, asook die berekende uitfasering van Afrikaanse skole en universiteite, het Naspers nog altyd net giftige, sarkastiese kommentaar op die "taalbulle" gehad. Ons is as "ou gryskoppe met grys skoene" verguis. In Beeld of Die Burger - ek kan nie meer onthou watter een van die twee nie - is ek 'n "taaltollie" genoem, want selfs die stereotipe benaming "taalbul" was nie beledigend genoeg vir iemand wat jou werklikwaar vir sy moedertaal Afrikaans omgee nie.
Toe die taalkwessie 'n faktor raak wat die openbare mening betref, het Naspers weer 'n ander rigting ingeslaan en die sogenaamde "rassekaart" gespeel. 'n Mens kon jou wel oor die taalkwessie uitspreek, solank jy net nie wit is nie. Of solank jy net nie op Afrikaans fokus nie, maar op die "elf amptelike tale", asof enigiemand al ooit vir 'n universiteit in Xhosa of Tswana gevra het.
Juis gister skryf Tim du Plessis, redakteur van Beeld, in sy weeklikse rubriek: "Lees gerus môre Marida Fitzpatrick se 'Onder vier oë' met Lionel (Adendorf):
"Dis wonderlik dat Adendorf se klaarblyklike passie vir Afrikaans uiteindelik nou losgelaat word en oorgaan in aksie.
Weliswaar is dit sy afkeer van wat hy noem wit Afrikaners se taalstryd wat hom tot aksie aangespoor het."
Adendorf, 'n ANC-lid en staatsamptenaar wat as skakelbeampte vir minister Noluthando Mayende-Sibiya werk, word deur Beeld beskryf as 'n Jong bul in die taalstryd en Du Plessis beskou hom as 'n moontlike redder van Afrikaans.
Net jammer Lionel Adendorf se kind praat of verstaan nie Afrikaans nie. Sy vrou is 'n Xhosa, dus is hul huistaal Engels. Eendag gaan die driejarige Lumile Adendorf nog Afrikaans leer en dan sommer 'n Afrikaanse skool en universiteit bywoon, as so iets teen daardie tyd nog bestaan.
Die feit dat hierdie "nuwe taalstryder" se huistaal nie eens Afrikaans is nie, is 'n nietigheid. Tim du Plessis popel oor Lionel Adendorf se "Forum vir Swart Afrikaanssprekendes": "Nou is daar uit ’n splinternuwe oord nog kampvegters vir Afrikaans. Dit kan mettertyd die hele tekstuur van die veldtog vir die behoud van Afrikaans verander."
Adendorf se vereniging is glo gestig nadat hy my op 'n oggendprogram op SABC2 gesien het. Soos hy dit in sy onderhoud met Beeld stel: "Dit het alles een Maandagoggend begin terwyl hy hier gesit en TV kyk het.
Dr. Dan Roodt van Praag was ’n ateljeegas op ’n oggendprogram 'en toe praat hy namens alle Afrikaanse mense en Afrikaners en hy vermeng die tweetjies en ek sit hier en ek raak boos, want ek is Afrikaans, maar ek is nie ’n Afrikaner nie'."
Trouens, volgens Adendorf het Afrikaners, nadat hulle anderhalf eeu lank 'n taalstryd gestry het, 300 woordeboeke, Bybelvertalings, asook 'n hele letterkunde, regspraak en geskiedenis in die taal geproduseer het, dit "vergiftig". Hy stel dit so:
"Die taal het aansien verloor omdat die debat oor die taal vergiftig was deur die invloed van Afrikaner-nasionalisme.
Die forum het ten doel om dit te ontgif. Dit is die taal van nie-rassigheid, dit is die taal van versoening."
Dit alles klink seker soos musiek in die ore van die Naspers-propagandiste. Stel jou voor: Afrikaans moet "ontgif" word want daar was te veel "wit mans" wat hulle met die taal bemoei het. Twee van die wit mans wat deur Adendorf in 'n Burger-artikel uitgesonder word, is: "prof. Hermann Gilliomee van die US, en Dan Roodt, omstrede regse figuur".
Naspers hou daarvan om etikette op mense te plak en die term "regse" is al die afgelope vyftig jaar 'n gunsteling. As jy iemand met dáárdie teerkwas kan bykom, dan het jy so te sê die persoon se hele toekoms vernietig.
Die absurditeit van 'n Afrikaanse "taalstryder" wat hom rig, nie teen Engelse taalimperialisme of owerheidsvyandigheid teen die taal nie, maar teen Afrikanertaalaktiviste en wie se eie kind nie eens Afrikaans verstaan nie, is so lagwekkend dat dit in 'n satire of klug tuishoort.
Ongelukkig bestaan daar in Suid-Afrika 'n nare werklikheid wat nie langer deur gemeenplasige skeltaal verdoesel of besweer kan word nie. Die land verkeer in 'n laegraadse etniese konflik met geweld en rassespanning wat elke dag toeneem. Al was Naspers tien keer groter en magtiger as wat die maatskappy reeds is, kan hy eenvoudig nie aan hierdie werklikheid verander nie.
Op 'n manier is Naspers reeds geïntegreer by die ANC en ZANU PF se wêreldbeskouing, by Malema en Mugabe se ewe absurde logika. Tydens Debra Patta se fameuse onderhoud met Malema, het hy beweer dat "Tokyo Sexwale arm is, hoewel hy oor miljoene in die bank beskik". Net so dink Mugabe dat grondhervorming in sy land 'n reusesukses is.
Dat Naspers se horde rubriekskrywers meen dat sadistiese Suid-Afrika 'n normale, funksionele "demokrasie" is waar slegs 'n "meer positiewe gesindheid van Afrikaners" die tierende geweld, onreg en korrupsie gaan stop, is deelagtig in dieselfde wêreldvreemde en siek logika.
Persoonlik is ek daarvan oortuig dat verandering in ons land nie meer ver is nie. Dit kan eenvoudig nie so aangaan nie. Een of ander tyd móét die damwal breek. Indien Afrikaners egter oor media, benewens die internet, beskik het wat 'n konsekwente, helder standpunt kon inneem, sou verandering veel gouer kon plaasvind. Duisende lewens sou gered kon word. Daar sou veel gouer 'n einde gemaak kon word aan diefstal, omgewingskade, selfverryking uit die staatskas, asook die haatspraak wat groepe teen mekaar opsweep.
Op grond van die keuses en standpunte wat Naspers, sy direksie en kommentators reeds ingeneem het, kan 'n mens sê dat die maatskappy net so 'n hegte band met die huidige orde onderhou as wat IG Farben met die Nazisme gehad het. Reeds gaan daar internasionaal onder denkende mense die kreet op dat 'n volksmoord tans teen Afrikaners en Boere in Suid-Afrika gepleeg word.
Baie Afrikaners praat van 'n Nürnberg-verhoor wat moet plaasvind om diegene te verhoor wat die huidige onreg teen ons pleeg, asook hulle wat daaraan medepligtig is.
In welke mate Naspers self medepligtig aan menseregtevergrype teen Afrikaners sou wees, is 'n interessante morele, politieke en regsvraag wat in die nabye toekoms aan die orde mag kom.
Bookmarks