Zim kort ’n laksman, maar niemand wil dié werk doen
2010-04-13 22:58
Tangai Chipangura
Harare. – Zimbabwe sukkel om ’n laksman te kry – daarom is “slegs 60” veroordeelde gevangenis sedert onafhanklikheid in 1980 gehang.

Mnr. Chris Mutangadura, hoofregsbeampte in Zimbabwe, sê die laaste laksman, ’n Zambiër, het in 2005 bedank.

Sedertdien was die soeke na ’n opvolger onsuksesvol.

Mutangadura het gister bevestig meer as 50 veroordeelde gevangenes kwyn in die Chikurubi-maksimumveiligheidsgevangenis weg terwyl hulle wag dat hul doodsvonnisse voltrek word.

George Manyonga is die gevangene wat al die langste van almal op die galgtou wag: 13 jaar.

“Een van die probleme is dat ons in Zimbabwe nie die laksman-pos adverteer nie, terwyl dit in ander lande soos Zambië gepubliseer word. Die vergoeding is ’n onderhandelbare kontrak wat ook nie bekend gemaak word nie,” het Mutangadura gesê.

Die laaste laksman het bedank ’n jaar nadat hy die berugte gewapende rowers, Edmore Masendeke en Stephen Chidhumo, in 2005 gehang het.
Hy is as ’n huiwerige en uiters berouvolle laksman beskryf.

Zimbabwiërs is weens hul kulturele oortuigings en ’n vrees vir wrekende geeste bang om ’n werk te doen waar hulle ander se lewens neem.

Hulle glo ’n werk waarin mense doodgemaak word, is ongehoord. Luidens literatuur oor laksmanne is dié werk net vir mans.

Dit verg onwrikbare fokus en is nie vir lafhartiges nie. ’n Laksman kan nie bedenkinge hê net voordat hy die hefboom trek nie.




http://www.beeld.com/Wereld/Nuus/Zim...-doen-20100413