As township-skole beter wil vaar, moet hulle by die “ou wit skole” gaan kers opsteek oor dissipline.
En pleks daarvan om Suid-Afrikaanse boere uit die land te verwilder, moet landbou en kommersiële boere, vanweë die belang van die bedryf, gekoester word om die land se beswil.
Volgens mnr. Ace Magashule, Vrystaatse premier, het pres. Jacob Zuma vroeër vandeesweek só aan ’n afvaardiging van die Vrystaatse uitvoerende raad gesê.
Magashule en die Vrystaatse LUR’e het Dinsdag met Zuma vergader in Nkandla (die president se tuisdorp waar hy die dag tevore getrou het), het Magashule gister op die nuuskonferensie oor Vrystaatse matriekuitslae gesê.
Volgens Magashule het Zuma gesê as Suid-Afrika herstel wil word, moet die land die meeste van sy hulpbronne toespits op onderwys en nie op armoede of werkloosheid nie. Dan gaan herstel vanself kom.
Voorts is ’n verandering van ingesteldheid nodig, sodat apartheid of subsidie aan kommersiële boere nie altyd die skuld kry nie.
“Toe hy skoolhoofde (op die vergadering) aanspreek, het hy gesê hulle kan van dissipline gaan leer by die ou wit skole waar 7 uur per dag skoolgehou word, terwyl skole in die township 3 of 4 uur per dag klasgee en dan verwag om goed te vaar.
“Hy het benadruk skole moet die kwessies verstaan waaroor dit gaan, soos dat onderwysers betyds moet wees.”
Volgens Magashule het Zuma ook gesê toe subsidie aan kommersiële boere gesny is, het hulle uitgewyk na Zambië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Mosambiek en daar gaan waarde toevoeg, pleks van in Suid-Afrika.
Agterna het Magashule aan Volksblad gesê swart leerlinge se prestasie in “ou wit skole”, soos Grey-kollege, Eunice en Brebner in Bloemfontein, danksy Suid-Afrika se veranderende demografie, wys dat swart kinders met die regte dissipline in onderrig ook akademies uitstekend kan vaar.
“Dit gaan nie net oor hulpbronne nie, maar oor wie die leier is en hoe saamgewerk word.”
- Volksblad
Bookmarks