Johannesburg-buurt al vier dae sonder water – terwyl liters uit gebarste pyp in huise vloei
Inwoners van Naturena, suid van Johannesburg, moes teen gister al amper vier dae sonder water klaarkom – en dít terwyl daar elke minuut liters daarvan uit ’n gebarste pyp in strate, tuine en huise vloei.
Volgens mnr. Conrad Carpede, inwoner van die huis in Comptonville waar die pyp gebars het, het Johannesburg Water (JW) die pyp sedert Dinsdag drie keer kom regmaak, maar net ’n paar minute later bars dit weer.
“Duidelik doen hulle iets verkeerd, maar maak nie ’n plan om iets anders te probeer nie. Hulle het die tuin omgedolwe en vier van ons bome uitgekap om dié reuse-gat te grawe.”
By Beeld se besoek gister was die gat vol water en het dit tot in Carpede se tuin en huis, asook dié van sy bure wat op vakansie is, gestroom.
Ontstoke inwoners het kort-kort verbygery om te kyk wat aangaan.
Volgens Carpede het hy al “honderde rande se lugtyd” na JW opgebel.
“Hulle het nie ’n tolvrye nommer nie. Ná die eerste paar keer wat hulle hier kom werk het, het daar die afgelope twee dae nog niks gebeur nie.”
Volgens mnr. Zach Masothu, nóg ’n inwoner van Comptonville, is sy talle oproepe na JW soos water van ’n eend se rug.
“Blykbaar is almal op verlof. Ek bel die Klipspruit-tak, wat my na Johannesburg-sentraal verwys. Bel ek húlle, sê hulle Klipspruit moet die probleem oplos. En as ek nou ophou om my waterrekening te betaal, word dit afgesny!”
Mnr. Bernard Carlton is ook radeloos: “ ’n Mens kan ook net so lank uit emmers leef. Dankie tog ek het ’n swembad, anders was ek nou dae lank vuil.”
Woordvoerders van JW kon nie bereik word nie.
http://jv.news24.com//Beeld/Suid-Afr...448096,00.html
Bookmarks