Student 'gestamp, gewurg' toe hy kla oor polisie se kar


’n Pretoriase student het ’n nag in ’n polisiesel deurgebring nadat hy glo met sy selfoon ’n klankopname in ’n polisiekantoor wou maak en ses polisielede op hom toegesak het.

Mnr. Werner Smook (21) wou ’n opname maak van polisielede wat weier om twee kollegas te eien wat glo terwyl hulle aan diens was by ’n re?staurant koffie gedrink het.

Smook, ’n ingenieurswese-student aan die Universiteit van Pretoria, is gistermiddag by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy sal na verwagting vanoggend in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn.

Hy en mnre. Ruan Combrink (25), ’n teologiestudent by ’n private akademie, en Cobus Pretorius (23), ’n student aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie, het Sondagaand in Hatfield gery.

Hulle het omstreeks 21:00 ’n polisiebakkie in Burnettstraat gesien wat met twee wiele op die sypaadjie en twee in die straat staan.

Combrink het gesê die bakkie was “half ’n obstruksie in die pad”.

“Die blou ligte was aan.”

Twee polisielede in uniform het in ’n restaurant daar gesit en koffie drink, het hy gesê.

Die studente het foto’s van die bakkie geneem “om ’n klag te gaan indien omdat die polisielede aan diens en die bakkie in die pad was”.

Die lede het opgedaag en wou weet wat aangaan. “Ons het gesê ons neem foto’s van hul onwettige optrede.”

Combrink het gesê die lede het toe erken hulle is “korrup”.

Hy het gesê die lede het gesê die drie kan maar die “kommissaris” bel, “want hy is net so korrup”.

Daar was ’n konfrontasie tussen die twee groepe. Die lede het glo kwaad geword en gesê die studente is rassisties. Die lede het na die Brooklyn-polisiekantoor gery.

Die studente het toe ook hier opgedaag om ’n klag in te dien.

Volgens Combrink het die beamptes in die kantoor geweier om hul twee kollegas te eien. Smook wou die klankopname van dié “weiering” maak.

Ses lede het Smook toe op die grond vasgedruk, “met die knie op hom gestamp en hom gewurg”, het Combrink gesê.

Smook is gearresteer.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê Smook is op klagte van crimen injuria en intimidasie gearresteer.

Volgens die lid wat Smook gearresteer het, het Smook aan polisielede gesê hulle is korrup.

Weilbach het gevra dat Smook ’n formele klag by die polisiekantoor indien en die bewyse (die foto’s en klankopname) vir sy bewerings saambring. ’n Ondersoek sal gedoen word. As die lid skuldig is aan ’n misstap, sal tugstappe volg.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afri...518595,00.html